Die Mure van Konstantinopel is ’n reeks verdedigingsmure wat die stad Konstantinopel (die huidige Istanboel in Turkye) beskerm het sedert sy stigting as die hoofstad van die Oos-Romeinse Ryk deur Konstantyn die Grote. Met verskeie toevoegings en veranderings tydens die geskiedenis is hulle die laaste groot oorblywende versterkingstelsel van die antieke tyd, asook een van die ingewikkeldste en mees uitgebreide stelsels wat ooit gebou is.
Dit is oorspronklik deur Konstantyn die Grote laat bou en het die nuwe stad aan alle kante omring en teen aanvalle oor land en ter see beskerm. Namate die stad gegroei het, is die bekende dubbele lyn van die Theodosiese Mure in die 5de eeu gebou. Die mure was feitlik ondeurdringbaar vir enige Middeleeuse aanvallers en dit het die stad, en die Bisantynse Ryk, veilig gehou tydens aanvalle van talle nasies, onder andere die Russe, Arabiere en Bulgare. Die uitvinding van kanonne wat met buskruit werk, het die versterkings kwesbaar gemaak en dit het gelei tot die verowering van die stad deur die Ottomaanse Turke op 29 Mei 1453 ná ’n lang beleg.
Die mure het tydens die grootste deel van die Ottomaanse tydperk behoue gebly totdat dele in die 19de eeu afgebreek is namate die stad uit sy nate gebars het. Ondanks die gebrek aan onderhoud het groot dele van die mure bly staan. ’n Grootskaalse restourasieprogram is sedert die 1980's aan die gang, wat besoekers toelaat om te sien hoe hulle oorspronklik gelyk het.